Kruie is geurige plante wat ons gebruik om alledaagse
bestandele om te tower in uitstaande geregte.
Indien jy verkies om dit
gedroog te gebruik kan jy die vars kruie uitspei op 'n bakplaat en vir 'n uur
lank in 'n koel oond plaas.
Hier volg 'n lys van
kruie wat ons gereeld (behoort te) gebruik asook verwysings na hul
geneeskundige of ander gebruike.
Basielkruid - 'n Kruid om jou tone te laat omkrul. Hemels saam met
tamatie, pasta, eiervrug, skorsies en spinasie. Maak vir jou tee hiervan saam
met hiermee en jy sal nuwe lus vir die lewe kry. Stamp die gedroogde blare fyn
en maak vir jou snuif vir verkoue en hoofpyn. Vars basielkruid help teen
naarheid, verminder maagkrampe en help die liggaam om kos beter te verteer.
Grasuie - Hierdie kruid uit Europa kan ons gerus baie meer
gebruik, al is dit as versiering. Dit gaan goed saam met eier, vis, souse,
kaas, pluimvee en slaai. Indien jy dit in 'n warm gereg gebruik moet jy dit
eers in die laaste vyf minute van die kooktyd byvoeg, anders gaan die smaak
verlore. Die kruid kan aptyt aanwakker, dit is medisyne vir die niere en kan
help om hoë bloeddruk te verlaag. Dit bevat ook vitamien A, C en foeliensuur,
kalium, kalsium en yster.
Koljander - Wat is 'n kerrie sonder koljander. Die kruid gaan ook
goed saam met hoender en Thaise geregte. Indien jy lighoofdig voel stamp jy 'n
paar sade fyn en asem die walms in.
Komkommerkruid - Die blare van die plant smaak soos komkommer.
Natuurlik 'n moet vir slaaie. Die blare kan ook gediepbraai word. Maak tee
hiermee om jou bloedsomloop te verbeter.
Kruisement - Souse is meeste kruisement se voorland. Dit gaan ook
goed saam met kalfsvleis, sop, slaai, jogurt, brood en meeste groente. Die tee
help vir verkoue en spysvertering.
Laventel - Gebruik dit in koeke, beskuitjies en vla. Probeer ook
jou eie laventelasyn te maak deur die blare 'n paar weke in asyn te laat lê.
Marjolein- Behalwe dat dit 'n mooi naam vir 'n meisie is gaan
marjolein ook goed saam met pluimvee, slaai en botterbroodjies. Tee van hierdie
plant verlig hoofpyn en help met spysvertering.
Oregano - Die familielid van marjolein is 'n geurige bymiddel
vir pasta, rys, pizza, moussaka en tamatie. Soos marjolein verlig die tee
hoofpyn en help dit met spysvertering.
Pietersielie - Meeste mense is vertroud met die staatmaker vir eier,
aartappels, pasta, souse, pluimvee en vis. Maak tee met die plant vir hulp met
die spysvertering en bloedsomloop. Vermy die krulblaar soort. Dit dien slegs as
versiering. Wat jy wil gebruik is die platblaar Italiaanse pietersielie.
Roosmaryn - Die sterk aroma van die plant gaan goed saam met vark,
kalfsvleis, bees, eend, brood, eiervrug en aartappels. Maak vir jou tee hiermee
indien jy hoofpyn het, hulp nodig het met spysvertering of baie senuweeagtig
is.
Salie - Die
plant met sy silwergrys blare is 'n uitstekende geurmiddel vir pasta, vark,
kalfsvleis en olierige vis. Om as versiering te gebruik diepbraai jy die blare.
Die plant help vir mond- en keelseer. Insekte haat die reuk van salie.
Suurlemoengras - Die kruid staan reg vir enige Oosterse gereg of olierige
vis. Die tee is goed vir oorwerkte niere en dit help om verkoue en koors te
verlig.
Tiemie - Gebruik
die kruid in bredies, sop, eier, vleis, hoender, vis en pasta. Behandel jou
hoes, krampe, spysvertering en eetlus hiermee.
Vinkel - Vinkel
is beslis nie nes koljander nie. Vinkel word meesal saam met vis gebruik maar
dit is ook goed met slaai, pasta en rys. Die wortel van die plant is 'n groente
op sy eie. Maak teesakkies van die kruid wat jy dan op seer oë plaas.
No comments:
Post a Comment